Dis Sondag reg of weg vir René Kalmer en Irvette van Zyl in die Londen-marathon.
Dit is albei se eerste en enigste kans om vir die marathon op die Olimpiese Spele in Augustus in Rio de Janeiro, Brasilië, te kwalifiseer.
Om dinge te vererger: Hulle moet nie net die kwalifiserende maatstaf van 2 uur en 45 minute oortref nie. Hulle sal Sondag in die omgewing van 2:30:00 – of selfs vinniger – moet hardloop om seker te maak van hul plekke in die Spele-marathon.
Net drie vroue per land per item mag in Rio deelneem.
Van Zyl kon nog nie ’n kwalifiserende marathon hardloop nie omdat sy verwagtend was met haar en haar man, die Olimpiese hekkiesatleet LJ van Zyl, se eersteling. Sy het eers in September, ná Louis se geboorte, weer begin oefen.
Op haar beurt het Kalmer met ’n heupbesering gesukkel. Haar laaste marathon was op 12 April verlede jaar in Wene, Oostenryk. Daardie dag het sy ’n tyd van 2:33:21 gehardloop.
In dié stadium is die drie Suid-Afrikaners met die beste tye sedert die kwalifiseringstydperk op 1 Mei verlede jaar begin het Christine Kalmer (2:33:43), Lebo Phalula (2:33:48) en Jenna Challenor (2:37:12).
Christine Kalmer is René se jonger suster en oefenmaat.
René Kalmer, Van Zyl en Tannith Maxwell was vier jaar gelede in Londen Suid-Afrika se drie verteenwoordigers in die Spele-marathon.
René Kalmer Foto: GETTY IMAGES
Van Zyl het haar beste marathontyd, 2:31:26, drie jaar gelede in Londen gehardloop toe sy tiende was.
Die vorige jaar het sy in haar marathon-debuut in dieselfde marathon met ’n tyd van 2:33:41 vir die Spele gekwalifiseer.
Van Zyl is vanjaar puik op dreef.
Dit sal nie verbaas nie as die Pretorianer die vyfde Suid-Afrikaanse vrou word wat die marathon onder 2:30 hardloop.
Elana Meyer (2:25:12), Colleen de Reuck (2:26:35), Frith van der Merwe (2:27:14) en die einste René Kalmer (2:29:27) is die ander wat dit kon regkry.
Verlede jaar het 138 vroue wêreldwyd dit vermag.
As Van Zyl nie Sondag kwalifiseer nie, is daar ’n kans dat sy later oorsee sal probeer om in die 5 000 of die 10 000 te kwalifiseer.
’n Maksimum temperatuur van 11° C word Sondag vir die Britse hoofstad voorspel.
Onder die vroue is die Keniaan Mary Keitany (2:18:37) die groot gunsteling.
Sy het die wedloop al twee keer gewen.
Die Keniaan Wilson Kipsang, ’n voormalige wêreldrekordhouer, meen hy kan sy Londen-rekord van 2:04:29 verbeter. Nóg ’n Keniaan, Eliud Kipchoge, is die verdedigende kampioen.
* Die wedloop word Sondag van 09:30 op SS 9 uitgesaai.
Deur
Source: Network24